Gratis lees

Dié afdeling kry in die middel van elke maand iets nuuts by. Kom loer dus gereeld vir uittreksels, kortverhale, gedigte of wat ook al.

Januarie 2012

Die volgende kortverhaal van Bloemhof het verskyn in vanjaar se eerste Huisgenoot, dié van 5 Januarie:

Sonde met die buurman

Frikkie du Toit is vanmiddag plein moerig. Nie "vies", "kwaad" of "toornig" nie: moerig is al woord daarvoor.

"Ek hou net nie daarvan dat jy met hom assosieer nie," sê Marjorie. Dis nou sy vrou, en eintlik is dit 'n geval van Frikkie wat vandag wéér plein moerig is, want so gaan dit nou al maande lank.

"Wat's verkeerd met die man?" wil Frikkie weet, en raak dadelik nog meer die duiwel in omdat dit klink asof hy voel hy moet homself verdedig.

Die man onder bespreking is André Harmse. Van langsaan.

"Jy weet wat ek bedoel."

"Nee, Marjorie, ek weet die laaste tyd selde wat jy bedoel."

"Ek weet nie wat julle kan hê om oor te praat nie."

"Is jy bang ons praat oor jóú?"

"Hy's geskei," kom dit van sy steeds sexy en begeerlike vrou wat tog sulke onlogiese logikaspronge kan maak.

"Wat het dit met enigiets uit te waai?"

"Dis nie goed nie."

"Met hom geskei en dinge tussen my en jou soos wat dit is, het ek en hy al hoe meer om oor te praat!"

"Dan erken jy dit!" roep sy uit. "Julle bespreek my!"

"Nee, ek meen bloot ons sou kón. Ons het egter baie ander dinge om oor te gesels – nie alles draai om jou nie, weet jy?" Frikkie sug. "As jy moet weet, ons het sport gekyk, ons het 'n paar biere gedrink, en ..."

Hy besef dat hy weer besig is om te verduidelik en sy moerigheidsmeter skiet nog 'n paar grade op, daarom draai hy om en stap weg.

"Ja, loop maar!" kom Marjorie se stem agter hom aan. "Dis mos jou manier om 'n probleem op te los!"

"Daar sou nie 'n probleem gewees het as jy nie heeltyd gekla het nie!"

"As ek kla, dan kommunikeer een van ons darem!"

Hy antwoord nie, hy smyt net die deur van sy studeerkamer agter hom toe. Gaan sit agter die imposante embuiahout-lessenaar in sy sugtende, dalk net effens te deftige leerstoel. Hy kyk na sy onmiddellike omgewing, alles luuks, niks wat makeer nie. En só is die hele huis, en hoekom is niks meer goed genoeg vir Marjorie nie? Die woning self is egter nie oordadig nie, en is geleë in 'n gewone buurt soos waar hy vandaan kom. 'n Mens moet nederig bly.

Nou wil sy al vir hom sê met wie hy mag assosieer! Wat is volgende – wat hy mag dink?!

Die eerste jaar saam was goed, maar toe was dit asof sy herinneringe aan die troue al vaer raak; hy moes voor die portret in die gang gaan staan om te onthou hoe hy en Marjorie daardie dag gelyk het. Is dit nie veronderstel om sewe jaar te vat voor jy jeukerig raak nie? Goed, dis nie die regte woord nie: dalk "krapperig".

Hy stel nie in ander vroue belang nie – of nie só dat hy iets omtrent die saak wil doen nie! Hy kyk partykeer na een en dan wonder hy: Sou dit beter saam met haar gewerk het?

Die laaste ses maande of wat werk dit beslis nie. Hy sien net foute raak en dieselfde geld duidelik vir Marjorie. Die vet weet, hy is seker nog lief vir haar. Of hy ís. Maar as hulle die slag nog woorde wissel, ontaard dit in 'n stryery. As sy die slag direk na hom kyk, is daar 'n beskuldiging in haar blik. 'n Foutsoekery.

Hy sug. Hy weet hy's nie volmaak nie, ver daarvandaan. 'n Oujongkêrel wat so gewoond daaraan geraak het om sy eie ding te doen, hoe en wanneer hy wou, dat dit vir hom ná die euforie van 'n jong vrou ontmoet en haar die hof maak en om haar hand vra en met haar trou bitter moeilik was om te aanvaar hier is nou saam met hom in die huis 'n volwaardige mens met eie behoeftes – ánder behoeftes.

Hy weet dit gaan nie regtig oor André Harmse nie. Marjorie se beswaar teen sy assosiasie met hulle buurman is net 'n simptoom; sy wil nie hê hy moet enigiets doen wat haar uitsluit nie. En hy wás seker 'n bietjie aspris deur haar laas naweek amper heeltyd alleen te los terwyl hy langsaan kuier.

Daar was 'n geskilletjie die Saterdagoggend (die ergste is, hy kan nie onthou waaroor nie!) en toe loop hy oor na waar daar vrede sou wees. Vrede en TV en sport en biere, en iemand wat hom nie moerig sou maak nie. Hy't geweet André sou nie, al ken hy hom nog nie te goed nie. Ouens dink op dieselfde manier, dis die ding. Dieselfde logiese prosesse.

Frikkie sit nog so en tob, toe gewaar hy die A4-grootte vel papier op die hoek van sy lessenaar, in die posmandjie. Dit is in drie gevou, maar daardie rooi strepe beteken net een ding.

Verkeersoortreding.

Self het hy nog nooit een van die goed gekry nie, maar sy suster het al. Sy het daaroor gelag toe sy dit vir hom wys, en hy het nog gedink: Hoe onverantwoordelik van jou, dit is 'n skande om so iets te kry.

'n Ander soort frustrasie bruis in hom. Hy weet dis onredelik, dit stem uit die rusie wat hy pas met Marjorie gehad het, maar skielik voel dit weer of ... nee, dis tog laf ... maar of die hele wêreld teen hom is. Belaglik, want kyk hoe suksesvol is hy! Dis eerder 'n geval van die hele wêreld wat hande klap terwyl hy die een finansiële sukses op die ander behaal.

Maar. Maar.

Hy het nog altyd kritiek gehaat, vandat hy op skool nie 'n bal kon vang nie, nooit die mooi meisies kon kry nie. Dis hoe dit is, jou onsekerhede gaan nooit weg nie. En hierdie boete, wat is dit anders as 'n vorm van kritiek? Iewers in 'n kantoor met flikkerende elektriese ligte het iemand gesit en dink hulle gaan hom nou lékker wys hoe simpel hy was deur te wou dink sy grênd motor maak van hom 'n grênd mens. En nog vroeër het iemand anders 'n strik gestel om hom te wys hy is nie slim genoeg om daarmee weg te kom as hy effentjies te vinnig ry nie.

Hy lees.

En wil lag.

Daar staan hy het 137 in 'n 90-kilometer-sone gery.

Hy wéét hy het nie! Hy't in sy lewe nog nie so vinnig gery nie. Is hy nie Versigtige Frikkie nie? Dis wat party mense hom noem. Dis hoekom sy beleggings so goed doen. Hy het die motor vir prestigewaarde gekoop, hoegenaamd nie vir spoed nie. Marjorie het al geskimp hy kan maar vinniger ry, hy het selfs die indruk gekry sy hou van spoed, maar dis nou eenmaal nie hy nie.

Marjorie ...

'n Donker agterdog groei in hom.

Maar hy skud sy kop. Sy kan nie bestuur nie. Hy wou al gehad het sy moet rylesse neem, maar haar verskoning was dat sy dit nie nodig het nie. Hy weet sy hou daarvan dat hy haar rondry, of dat hy een van sy werknemers stuur om haar winkels toe of waar ook al te neem.

Hy was seker maar ingedagte, toe ry hy te vinnig. Hy neem aan dit gebeur.

Maar met hóm? Met Versigtige Frikkie?

Die linkerkantse onderste hoek is afgeskeur. Op sy suster se boetepapier was dít waar 'n fototjie van die motor gesit het as bewys van haar oortreding. Hier moes ook 'n foto gewees het, en ja, hy sien 'n vierkantige kleurvolle hoekie het agtergebly.

"Marjorie!" Die duiwel spring weer in hom op, en net so is hy self orent en een-twee-drie by die deur, en hy pluk dit oop. "Marjorie!"

"Dis nie nodig om te skree nie." Sy staan amper reg voor hom in die gang. "Wat is dit?"

"Dít." Hy fladder die papier.

"Wat daarvan? Dis jou boete, nie myne nie."

"Kon jy nie die koevert versigtiger oopgemaak het nie? Jy't dit geskeur."

"O. Jammer." Sy klink nie jammer nie.

"En van wanneer af maak jy my pos oop?"

"Ek het nie gedink 'n spoedboete is privaat nie. Enigiemand kan mos aflei wat dit is. En moenie vir my vies wees oor jóú oortreding nie."

Sy draai om en stap weg soos hy 'n paar minute gelede gemaak het. En hy retireer en smyt die studeerkamer se deur toe. Soos 'n paar minute gelede.

Bedaar. Hou jouself in toom. Dalk moet hy weer by André 'n draai gaan maak. Net 'n rukkie, dan sal hy ontspan. Terwyl hy weet Marjorie sal hier by die huis sit en kwaad wees daaroor.

Die enkele keer wat Marjorie en André saam gekuier het, so sewe maande gelede, het hulle amper dadelik aan die stry geraak, hier in die sitkamer. Hy kan nie onthou waaroor nie, dit was 'n onbenulligheid. Toe stry hulle 'n paar minute later oor nóg 'n onbenulligheid. André se vrou het na hom, Frikkie, gekyk asof om te sê: Ag, André is maar so. Later die aand, toe die bure huis toe is, het Marjorie laat hoor: "Die man is omtrent vol opinies! Ek verpes dit as iemand net wil óórneem!" Dit was duidelik dat die bure nie weer genooi moes word nie, en geen uitnodiging het van daardie kant gekom nie, en kort daarna het André se vrou in elk geval uitgetrek en word 'n skeisaak aanhangig gemaak.

Ja, hy sal oorloop en 'n bier of wat gaan knak, en Marjorie sal lekker wonder of André hom dalk probeer oortuig hoeveel rustigheid daar ná 'n egskeiding is ...

Skielik, die gedagte.

Frikkie kyk na die datum in die middel van die papier. Hy het dit vroeër skaars opgemerk, hy was so besig om te konsentreer op die snelheid (so vinnig, vir hom) en area (hier naby) en bedrag (groot, maar onbenullig, dis nie waaroor dit gaan nie). Die datum, die datum.

Hy kan sweer ...

Hy pluk sy dagboek uit die laai en blaai, blaai daardeur. Dis meer as 'n maand gelede, daarom kan hy nie seker wees voor hy dit opkyk nie.

Maar ja, daar staan dit. Hy was nie hier nie. Hy het die vorige aand Johannesburg toe gevlieg – 'n werknemer het hom lughawe toe geneem – en eers twee dae later teruggekeer.

Dus: Dit was nie hy in die motor nie.

Dus: Marjorie kán bestuur, sy is gewoonlik net te gemaklik om dit te doen. En toe het sy vinnig gery, hopeloos te vinnig.

Dus: Die hoek van die papier is nie per ongeluk afgeskeur nie. Sy het geskrik toe sy die koevert sien, toe maak sy dit oop en skeur dit af, die inkriminerende getuienis. Die foto wat wys dat sy agter die stuurwiel sit!

Sy oog vang iets anders:

Die genoemde foto kan besigtig of betaal word op ...

Daar word 'n webadres verskaf.

Het jou! Frikkie du Toit word gevul met 'n gevoel van triomf. Slim Marjorie het vergeet alles gebeur deesdae elektronies. Sy het gedink sy't sommerso van die getuienis ontslae geraak en dat hy 'n tjek sal uitskryf en wegstuur sonder om seker te maak van sy feite, terwyl al wat hy hoef te doen ...

Hy trek sy skootrekenaar nader, gaan aanlyn en besoek die webadres. Skep 'n gebruikersnaam en wagwoord.

En kort voor lank, hier kom dit, die bewys.

Versigtige Frikkie staar daarna. Lank en hard. Hy word eers warm, toe koud.

Op die foto kan hy Marjorie duidelik uitmaak, amper gloeiend in die sonlig deur die voorruit. Sy lyk blonder as ooit, en jonk. Sy lyk mooi. Die motor ook. Die motor van 'n suksesvolle man.

André se woorde van verlede naweek kom by hom op: "Dis 'n fantastiese kar wat jy daar het. Ná die egskeiding moet ek mos met 'n stuk blik tevrede wees!" Hy het 'n ironiese laggie gegee en met sy groot hande 'n blikkie bier geknak.

Een van daardie groot hande rus selfversekerd en gemaklik op die fantastiese kar se stuurwiel. Die ander hand, net so familiêr, streel oor die wang van die blonde, jong, mooi vrou in die passasiersitplek.